Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 31 JANUARIE 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

TWEE BROERS JAAG REKORDS NA VIA AO-7

LEWER U INSETTE OOR TOEKOMSSTRATEGIE

SKRYF IN VIR DIE TINUS LANGE-TOEKENNINGS

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

Die President, Raad en lede van die SARL wens Janse van der Merwe, ZS4IQ, baie geluk met sy 90ste verjaardag wat hy op Vrydag 29 Januarie gevier het.

TWEE BROERS JAAG REKORDS NA VIA AO-7

Eddie, ZS6BNE, het SARL-nuus van inligting voorsien oor besondere prestasies via die AO-7-satelliet. Eddie sê, “Na meer as 35 jaar se wenteling om die aarde, werk AO-7 nog baie goed en onlangse wêreldrekords is via dié satelliet opgestel. Eerstens het Pierre, ZS6BB, sy broer se bestaande rekord verbeter tot ’n afstand van 7 630 km, toe hy kontak met Luciano, PY5LF, op 2 Januarie 2010 gemaak het! Nie lank daarna nie het André, ZS2BK, sy rekord teruggeneem met ’n wêreldrekordafstand van 7 694 kilometer!

Op 8 Januarie om 19:50 UTC, het André, ZS2BK, ’n uitmuntende rekord opgestel deur met Piraja, PS8R, deur middel van Modus B via die AO-7 satelliet kontak te maak. Die kontak is met gebruik van ESB gemaak, wat ’n besonderse prestasie is!

Pierre, ZS6BB, het nie op hom laat wag nie en spoedig die rekord terugverower. Op Maandagaand 18 Januarie, tydens die 17:00 UTC-verbyvlug van AO-7, het Pierre ’n ESB-kontak bewerkstellig met Josep, EA6SA, in ruitblok JM19lo oor ’n afstand van 7 766 km.”

Die volledige verslag sal in die Januarie/Februarie 2010-uitgawe van Radio ZS gepubliseer word.

Baie geluk aan Pierre, ZS6BB, en André, ZS2BK, met hul besonderse prestasies.

LAASTE KANS VIR VOORSTELLE VIR TOEKENNINGS EN INDIENING VAN AJV-MOSIES

Vandag is die laaste kans om iemand te nomineer vir een van die SARL-toekennings wat tydens die Nasionale Konvensiedinee op 24 April in Port Elizabeth toegeken sal word. Kry die besonderhede op www.sarl.org.za, gaan na ‘News’ en kies ‘Clubtalk’. Vandag is ook die laaste kans om mosies vir bespreking tydens die AJV in te dien.

LEWER U INSETTE OOR TOEKOMSSTRATEGIE

Die President se Net – op die lug vanaand – nooi u om insette te lewer vir die Raad se Strategiese Indaba wat vroeg in Maart gehou word. Lug u mening oor ’n verskeidenheid aspekte van Amateurradio en wat u graag in die toekoms wil sien.

Die Net is vanaand, Sondag 31 Januarie, om 19:30 op die lug. Klubs wat hul herhalers aan die telekonferensiebrug wil koppel, moet ’n e-pos stuur aan armi@sarl.org.za voor 11:00 vandag.

SKRYF IN VIR DIE TINUS LANGE-TOEKENNINGS

Die SARL se Tinus Lange 7066-Tegniese Uitmuntendheidstoekenning en die Tinus Lange 7066-Junior Tegniese Uitmuntendheidstoekenning word jaarliks toegeken aan persone wat ‘n tegniese projek in een van die volgende kategorieë inskryf:

Ontwerp- en/of konstruksie van projekte soos ’n voorversterker, SGV-brug, outomatiese ID-identifiseerder, praktiese antenna-idees, maste, draagbare toerusting, kragbronne, ens. Die projek wat u vir u ARK (amateurradiokamer) gebou het, kan ‘n goeie inskrywing wees;

OF

enige programmatuur vir gebruik in amateurradio.

Die inskrywing moet die volgende insluit: Die item sélf (as grootte en massa dit toelaat) of foto’s (veral in die geval van antennas en maste) en ‘n volledige beskrywing in ‘n artikel met illustrasies en/of foto’s, gereed vir plasing in Radio ZS. Die artikel moet in MS Word wees.

Die fisiese item en die ondersteunende dokumentasie, m.a.w. die persgereed-artikel vir Radio ZS en enige ander dokumentasie moet gelewer en/of gepos word na die NARS nie later nie as Vrydag 5 Maart. Die beoordeling vind plaas op die oggend van Saterdag 6 Maart.

Alle inskrywings sal vertoon word (waar praktiese moontlik, of andersins foto’s) by die AJV en die toekennings sal gemaak word tydens die jaarlikse dinee op Saterdag 24 April in Port Elizabeth.

Die twee toekennings is die Junior Tegniese Uitmuntendheidstoekenning (onder 25 jaar), ’n geraamde sertifikaat en ’n kontantbedrag van R500 en vir die Senior Tegniese Uitmuntendheidstoekenning – ’n geraamde sertifikaat en ’n kontantbedrag van R500. Die wenners sal ook elk ’n ARRL-logboek ter waarde van R75, geborg deur die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust, ontvang asook ’n komplimentêre uitnodiging vir een persoon om die toekenningsdinee by te woon (vervoer nie ingesluit nie).

Die toekenning word deur die Tinus Lange Trust geborg. Die trust is gestig na Tinus se onverwagse dood na ’n gasontploffing in Zimbabwe ’n aantal jare gelede. Die trust is gestig deur middel van ’n donasie ontvang van die Lange-familie. Die 7066-naam verwys na die frekwensie wat Tinus gereeld op sy reise en Hamnet-aktiwiteite gebruik het.

TUISKONSTRUKSIEKURSUS ONTVANG ’n STAANDE APPLOUS

Verlede week het deelnemers aan die SARL-tuiskonstruksiekursus vir die aanbieder, John Willescroft, ’n staande applous gegee. Goeie terugvoer is ontvang.

In ’n e-pos het Colin Porter, wat die kursus bygewoon het, geskryf: "Ek moet die manne gelukwens vir al die moete wat hulle met die Tuiskonstruksiekursus gedoen het. Dit is skitterend aangebied en almal is op die punt van hulle stoele gehou. Uit die vrae wat gestel is, kon gesien word dat almal die aanbieding en prosesse wat aan ons vertoon is, baie geniet het.

Ek het al ’n paar PC-borde gemaak en nie een het goed geslaag nie en het altyd dae geneem op te maak. Die metode wat gewys is maak die hele taak baie meer eenvoudig en gebruik toerusting wat ons alreeds elke dag benut. Dit is interessant hoe ons ons projekte onnodiglik moeilik maak, in plaas van iets eenvoudig om toerusting vir die ARK te bou. Selfs die afondingstake is vereenvoudig.”

Die volgende kursus word op Saterdag 6 Februarie by die Universiteit van KwaZulu-Natal aangebied. Daar is nog ’n paar plekke oop. Om te bespreek, besoek www.sarl.org.za en klik op ‘RTA’ vir die besonderhede. Besprekings vir Durban sluit op Dinsdag sodat die CD en dokumentasie betyds gereed gemaak kan word.

Die kursus in PE is op 20 Februarie en daar is nog enkele plekke beskikbaar. Moenie wag tot op die laaste oomblik nie, u gaan teleurgestel wees. Volg asseblief die besprekingsinstruksies op die Web.

ZS WAGS-TOEKENNINGS

Die kompetisie vir die toptellings vir die ZS WAGS-toekenning raak nou opwindend! Die deelnemer met die hoogste telling is Pieter, ZS6XT, met 71 ruitblokke uit ’n moontlike 83. Volgende is Jan, ZS4JAN, en Pierre, ZS6BB, beide met 70 ruitblokke. Daar is ook interessante ontwikkelings met addisionele onderskrywings. Hal, ZS6WB, het 33 ruitblokke op 2 m en 30 ruitblokke per satelliet gewerk, gevolg deur Pierre, ZS6BB, en André, ZS2BK, beide met 25 ruitblokke per satelliet. Van die deelnemers palm ruitblokke met QRP-werking in en daar word uitgesien na die eerste aansoeke.

Aan die aktiveerderskant het Sian, ZS3SVD, verlede September met ’n besonderse poging 10 of meer kontakte vanaf 9 skaars ruitblokke gemaak. Mooi so Sian! In Desember het André, ZS2ACP, ruitblok KF25 per satelliet geaktiveer met 11 kontakte.

Die Sandtonklub borg die ZS WAGS-toekenning. Vir meer inligting en die ranglys besoek die ZS WAGS-webtuiste by http://www.zs6stn.org.za/zswags. Die ZS WAGS-e-poslys bevat nuus oor komende aktiwiteite. U kan by hierdie lys aansluit deur ’n blanko e-posboodskap aan zswags-subscribe@googlegroups.com te stuur en dan te antwoord op die bevestigende e-pos wat u sal ontvang.

KOMPETISIENUUS

Die Antieke Draadloosvereniging se GG-aktiwiteitsdag sal vanaf 10:00 UTC op Saterdag 6 Februarie, tot 10:00 UTC op Sondag 7 Februarie op die lug wees – met werking tussen 14- tot 14,06 MHz; 7 tot 7,035 MHz en 3,5 tot 3,58 MHz. Deelname kan geskied as ’n enkeloperateur op alle bande – laekrag (maksimum 100 W), ’n enkeloperateur op alle bande – QRP (maksimum 5 W), ’n enkeloperateur enkelband – laekrag, of ’n enkeloperateur enkelband – QRP. ’n RS(T)-verslag, die operateur se naam en die ruitverwysing word uitgeruil.

Logstate moet gestuur word aan die Southern African Antique Wireless Association, Posbus 12320, Benoryn, 1504, of per e-pos aan andy.cairns@xsinet.co.za. Die sluitingsdatum vir die logstate is Maandag 22 Februarie.

Die eerste been van die SARL-nasionale velddagkompetisie sal tussen 10:00 UTC op Saterdag 13 Februarie, tot 10:00 UTC op Sondag 14 Februarie op die lug wees. GG- en foon mag gebruik word in die kompetisiegedeeltes van die 10-, 15-, 20-, 40-. 80- en 160 meterbande. Stasies kan deelneem as enkeloperateur-veldstasies – QRP, laekrag of hoëkrag, of multi-operateur-veldstasies – QRP, laekrag of hoëkrag of as algemene stasies – QRP, laekrag of hoëkrag. Algemene stasies is enkeloperateur of multi-operateur-stasies wat nie aan die vereistes van ‘n veldstasie voldoen nie. ’n RS- of RST-verslag word uitgeruil met S vir enkeloperateurveldstasies, M vir multi-operateur-veldstasies of G vir algemene stasies. Die sluitingsdatum vir logstate is 1 Maart.

Die volledige reëls vir beide kompetisies is beskikbaar in die 2010-SARL-kompetisiehandboek.

KLUBNUUS

Die Sasolburg Radioklub, ZS4SRK, bied vanaf Donderdag 4 Februarie RAE-klasse aan. Klasse duur van 18:30 tot 20:00 en vind plaas in kamer S317, Vaal Universiteit vir Tegnologie, Vanderbijlpark. Navrae kan gerig word aan Riaan, ZS4PR, by 083 581 8569 of riaanzs4pr@gmail.com.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Tans is sonvlek 1 041 die enigste aktiewe sonvlek op die sigbare sonoppervlakte. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week is tussen 10 en 20.

15- en 20 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa matig wees. Kontakte met Nieu-Seeland gaan op 15 m vir 'n kort rukkie gedurende die oggende moontlik wees. Gedurende die oggende en smiddags behoort kontakte met Australië vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik te wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15- en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m het weer van sy aansien herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word. Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Vandag - Die President se Net om 19:30; sluitingsdatum vir AJV-mosies en SARL-toekennings, asook die sluitingsdatum vir kompetisiekomitee-nominasies;
6 en 7 Februarie - AWA GG-aktiwiteitsdag;
6 Februarie - Tuiskonstruksiekursus in Durban;
13 en 14 Februarie - SARL se Nasionale Velddag;
20 Februarie - Tuiskonstruksiekursus in Port Elizabeth;
28 Februarie - Sluitingsdatum vir die opstelkompetisie oor SumbandilaSat;
28 Februarie - Laaste datum vir inskrywings vir die ARRISS-SAT-projek wat ingestuur moet word na youth@sarl.org.za en
27 Maart - 2010 SA AMSAT-ruimtesimposium.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is. Die bulletinredakteur was Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003